Drama.

Met Natalie Portman, Mila Kunis en Vincent Cassel.

Regisseur: Darren Aronofsky.

16TGS.

Begin 4 Februarie.

Ons dink: 4/5

Waaroor gaan dit?

’n Ballerina kry die hoofrol in Swanemeer en vind dit maklik om die heldin te dans. Maar die karakter se bose tweelingsuster smokkel met haar kop.

Wie sal hiervan hou?

Nie net balletomane nie, maar selfs springmielie-eters wat hulle verlustig in donker, intensiewe sielkundige dramas waar niks is soos dit op die oog af lyk nie.

Hier word die gepynigde alter ego van ’n ballerina in flambojante terme vergestalt.

Aronofsky is die ideale regisseur vir dié ontstellende sielkundige drama waar ’n jong meisie gaandeweg haar houvas op die werklikheid verloor.

Sy kombinasie van ’n skrikwekkende dodedans, die grasie van ballet en ’n gruwelreis na ’n duistere onderbewuste word meesterlik uitgebeeld. Een van die jaar se beste en skrikwekkendste rolprente.

Wag vir DVD?

Nee, want omdat groot dele op die verhoog afspeel, moet jy die geniale kamerawerk op die groot skerm beleef.

Nie alleen dring die kamera tot in die waansinnige brein van die danseres in nie, maar dit tol uitbundig en soms besete saam met die ander danseresse rond sodat jy totaal van jou voete af geswiep word.

Mila Kunis lewer ’n kragtoer as die meisie wat lyk of sy die heldin se kollig wil steel. ’n Rondomtalieriller.

Beeldskoon, aangrypend, vreesaanjaend en senutergend.

Hier kom Oscars . . .

Soortgelyke flieks

The Turning Point, Requiem for a Dream.

Springmieliefeit

*Portman het ses maande lank voorberei vir die rolle en om haar balletpassies te vervolmaak.

Kry die ikoonprogram in die Huisgenoot van 3 Februarie 2011 en kiek die ikoon met jou foon om ’n videogreep van Black Swan te sien.