Komedie.

Met die stemme van Justin Long, Evan Rachel Wood en Luke Wilson.

Regisseur: Aristomenis Tsirbas.

10MG.

Begin op 19 November draai.

Ons dink: 2/5 

Waaroor gaan dit?

’n Groep wesens in die buitenste ruim leef ’n doodgewone lewe op hul geliefde planeet. Dan daag ’n man op van die planeet Aarde. Hy is daar op ’n sending wat die wesens se bestaan en planeet bedreig . . .

Wie sal hiervan hou?

Nie noodwendig almal nie, veral nie die ou heel kleintjies nie.

Onthou, Pa en Ma moet hulle vergesel as hulle jonger as 10 is, want daar is ’n paar tonele wat dalk net ’n bietjie te intens en donker vir ’n jong gemoed kan wees.

Boonop is hierdie animasieprent anders as die ander vroliker animasieprente wat vanjaar uitgereik is. Dit is nie so toeganklik of kykersvriendelik nie; daarom moet die kyker uithaal en wys om deel te word van die storie.

Die karakters is ook nie altyd so sterk omlyn of oortuigend nie; dus neem dit ’n mens ’n lang ruk om in die rolprent in te kom, en teen daardie tyd het jou aandag al begin dwaal.

Wag vir DVD?

Ja. Dit is die soort rolprent waarvan ’n mens soms ’n asemskepkans nodig het.

As jy op DVD daarna kyk, kan jy uitstap, vars lug skep en weer met suurstof in jou longe terugkeer en dit opnuut aanpak.

Deel van die storie sentreer om mense op Aarde se afhanklikheid van suurstof en hul soeke na ’n planeet wat moontlik geskik kan wees om mense te onderhou.

Die storie is taamlik donker en slaag nie altyd daarin om jou te betrek of te laat vergeet dat jy na getekende prentjies kyk nie.

Maar as jy van eksentrieke wetenskapsfiksie met subteks hou, sal hierdie effe langdradige rolprent dalk in jou smaak val. Maar as ek jy is, kies ek liewer iets anders.

Soortgelyke flieks

Moon, The Last Airbender

Springmieliefeit

SJustin Long het glo die dikste ooghare in Hollywood!