Waaroor gaan dit?

Na ? gruwelike misstap in die verlede word die kinders van ? sekere groep ouers in hul slaap vermoor deur die diaboliese Freddy Krueger wat wil wraak neem.

Wie sal hiervan hou?

Vra liewer wie sal nié hiervan hou nie! Almal wat Wes Craven se oorspronklike rolprent nog onthou en steeds glo hy is die koning van monster-makers! Hierdie flou nabootsing is omtrent so skrikaanjaend soos vuil skottelgoed-water vol deurweekte spaghettistingels. Die hoofkarakters het géén persoonlikheid nie, dus hoop ? mens eintlik die paartjie word vermoor sodat jy verlore slaap kan inhaal, terwyl Haley nie eens Robert Englund se naelknipper werd is nie, laat staan nog sy lemme durf skerpmaak! Die fliek moes gehore in ? toestand van skok gehipnotiseer het oor die gevare van slapeloosheid. Dit slaag egter net daarin om jou aan die slaap te sus sonder ? enkele heerlike nagmerrie!

Wag vir DVD?

Ja, want om ? toegangskaartjie se prys hiervoor te betaal sal ? sonde wees. Jy kan dit op iets beter uitgee soos spookasem. Dit is dalk meer ysingwekkend as hierdie nuwe weergawe van Freddy Krueger se afgewaterde avonture. Voor die DVD-masjien kan jy ten minste luidkeels saam met jou pelle lag en guitige en sarkastiese aanmerkings maak oor hoe simpel alles is. Hoe gouer hierdie poging tot angs DVD toe verban word, hoe beter. Dink aan jou goorste onderwyser. Hy of sy is erger as hierdie nabootsing van Freddy. ? Moewiese teleurstelling.

Soortgelyke flieks

Beslis nié die oorspronklike A nightmare on Elm Street nie. Dalk Jennifer’s body en Halloween 2.

Springmielie-Feite

* Die vervaardigers wou aanvanklik Freddy se voorafstorie gebruik het as hoofstorie, maar hul moed het hulle begewe.

* Billy Bob Thornton was op die lysie van moontlike Freddy Kruegers.

* Daar is 15 weergawes van die draaiboek geskryf. Die finale weergawe is die produk van die vier “beste” weergawes.

A Nightmare On Elm Street

Riller. Met JACKIE EARLE HALEY, KYLE GALLNER en ROONEY MARA. Regisseur: Samuel Bayer 16 TG

Begin op 16 Julie 2010 draai.

Ons dink: 1/5