Feestelike Frankryk deur Louis Jansen van Vuuren, Hardy Olivier & Anet Pienaar (Jonathan Ball, R375).

Ons koop ’n chateau in Frankryk, voel ons pad deur die taal en kultuur, maak ons tuis, bemeester die plaaslike kookkuns en leef ’n storieboeklewe daar tussen die wingerde en joie de vivre. Maklik.

Toe nie. Maar hierdie drie Suid-Afrikaners – ’n skilder, sjef en ’n “stylvolle vrou met eindelose energie” –  het dit reggekry en daarby ’n jaloersmakende boek geskryf om dit te bewys. Lees dit en droom.

Anet Pienaar skryf die dae vloei ineen terwyl hulle werk, poets, skrop en nuwe resepte uittoets. En elke maaltyd, of dit ’n vinnige ontbyt op die kombuisstoep of ’n formele ete vir 14 gaste is, word ’n spesiale geleentheid.

Ons kan nie almal die droom uitleef nie, maar hulle het dit reggekry. So, geniet hul storie, wees jaloers en maak die resepte (hoewel nugter weet wat ’n mens veronderstel is om met die vier eiers in die profiterole-resep te doen!).

Het jy dalk hierdie boek gekoop? Gee jou mening in die kommentaarveld hieronder.