[caption id="attachment_51612" align="alignnone" width="600"]Die sterre van Homland: Carrie Mathison (Clare Danes) en op die plakkate teen die muur: Nicholas Brody (Damian Lewis)  Die hoofkarakters in Homeland: Carrie Mathison (Clare Danes) en op die plakkate teen die muur: Nicholas Brody (Damian Lewis)[/caption] EK HET geen probleem met September nie; dit het my niks aangedoen nie, maar as ’n groot aanhanger van goeie TV wil ek hê dit moet nou al Oktober wees. M-Net beloof regtig goeie kykstof in Oktober en ek wil dit nóú hê. Ja, ja, ja, ek weet ons het Donkerland, Under the Dome, Ray Donovan en Idols in September, maar kyk net gou wat in Oktober op M-Net en M-Net Series Showcase wag en jy sal verstaan hoekom dié maand so aanloklik lyk. Hier’s ’n voorsmaak, eers van die nuwe reekse en dan van ’n paar ou gunstelinge wat terugkeer . . .

Die nuwe reekse

Mom Dié een is gemaak deur Chuck Lorre, die koning van sitkoms en die man agter The Big Bang Theory, Two and a Half Men en Dharma and Greg. Dis klaar genoeg om my te laat weet ek móét dit kyk en ek wíl mal daaroor wees. Anna Faris speel Christy, ’n enkelma wat sober is ná ’n stryd teen alkoholisme, en wat nou ’n nuwe begin wil maak. Alison Janney van The West Wing speel haar mallerige ma. Ek is gek oor albei hierdie vroue. Anna het my beïndruk as die ma van Chandler en Monica se tweeling in Friends en dis lekker om haar terug op TV te hê. En dit word net beter: Octavia Spencer van The Help speel ’n vrou wat selfs meer probleme as Christy het. Die lokprent lyk goed en dis dus nog ’n plus in die regte kolom. Wanneer Dit begin 23 September in Amerika en ons kan dit van Vrydag 18 Oktober af op M-Net sien. Kyk die lokprent:

The Tomorrow People Ek hou van ’n goeie wetenskapsfiksie-/superheld-reeks op my kyklys en hierdie een klink na pret. Dit gaan oor Steven, ’n jong outjie wat in sy slaap begin teleporteer – dis wat my belangstelling geprikkel het. Hy is besig om ’n supermens met koel nuwe vermoëns te word en dit maak hom gek. ’n Stem in sy kop lei hom na die Tomorrow People, ’n gevorderde ras met verstommende futuristiese vaardighede wat sê hulle kan hom help. Hy word egter ook genader deur ’n militêre/ wetenskapsnavorsinggroep wat die Tomorrow People jag ten einde die mensdom te red. Dis gegrond op ’n Britse TV-reeks van die ’70’s en Robbie Amell speel Stephen. As daardie van vaagweg bekend klink, is dit omdat sy neef die fantasties geboude Stephen Amell is wat Oliver Queen in die reeks Arrow speel. Albei dié reekse is trouens op die CW-netwerk in Amerika te sien en The Tomorrow People kom onmiddellik ná Arrow op. As dit dieselfde soort gevoel as Arrow het, kan dit werk. Wanneer Dit begin 9 Oktober in Amerika en ons kan dit van Vrydag 25 Oktober af op M-Net kyk. Kyk die lokprent:

Sleepy Hollow Dis ’n moderne weergawe van die bekende storie The Legend of Sleepy Hollow oor ’n skoolonderwyser wat te staan kom teen ’n ruiter sonder kop. In dié weergawe “sterf” Ichabod Crane in 1790 ten tyde van die Amerikaanse Revolusie en word wakker in 2013 in Sleepy Hollow, waar die koplose ruiter mense nou terroriseer. Hy moet met die nuwe sheriff, Abbie Mills, saamwerk en hy weet duidelik iets oor wat aan die gebeur is, maar die meeste mense dink hy is van lotjie getik. Dit lyk na pret en word gemaak deur die mense agter die reeks Fringe en die nuwe Star Trek-flieks, en ek gaan dit dus beslis kyk. O, en Ichabod (vertolk deur die Britse akteur Tom Mison) is heeltemal sag op die oog, hoor . . . Wanneer Dit begin 14 Oktober om 19:30 op M-Net Series Showcase. Kyk die lokprent:

Ek het al oor die volgende drie reekse geskryf  (8 nuwe reekse op pad en 10 nuwe reekse) en gaan dit daarom hier net vinnig opsom. Hostages ’n Snydokter wat op die Amerikaanse president moet opereer word gedreig dat haar gesin doodgemaak sal word as sy hom nie vermoor nie. Toni Collette (The United States of Tara) speel die dokter wat te staan kom teen die verraaier, ’n FBI-agent (Dylan McDermott van The Practice en American Horror Story) wat haar gesin bedreig. Dit lyk asof die reeks vol kinkels en intriges gaan wees en Toni Collette gaan waarskynlik nóg pryse hiermee losslaan. Wanneer Dit begin 23 September in Amerika en ons sien dit van Dinsdag 8 Oktober om 20:00 af op M-Net. Kyk die lokprent: Devious Maids Vyf diensmeisies werk in die huise van die rykes en beroemdes van Beverly Hills en sien allerhande dinge raak. Die reeks begin waar een diensmeisie vermoor word en ’n raaiselagtige boodskap agterlaat, en ’n nuwe diensmeisie daag op wat haar eie agenda het. Dis gemaak deur die skepper van Desperate Housewives en beloof dus pret. Wanneer Begin 27 Oktober om 18:30 op M-Net Series Showcase. Kyk die lokprent:

Camp Rachel Griffiths is die ster van dié familiekomedie oor alles wat gebeur by ’n somerkamp langs ’n meer wat deur ’n pas geskeide vrou bestuur word. Ons leer die raadgewers, kinders en ouers ken. Ek is nog nie heeltemal seker oor dié een nie, maar dalk sal dit beter wees as wat dit klink en ek is versot op Rachel Griffiths, wat wonderlik was in Brothers & Sisters, so ek wil dit ’n kans gun. Wanneer Dit begin 9 Oktober om 19:30 op M-Net Series Showcase. Kyk die lokprent:

Die terugkerende reekse waarvoor ek nie meer kan wag nie

  • Homeland seisoen 3 begin 14 Oktober om 19:30 op M-Net. Ek is só gereed vir nog Carrie-en-Brody-intriges. Die reeks skop op 29 September in Amerika af.

  • Weeds seisoen 8, die laaste seisoen, begin 15 Oktober om 22:05 op M-Net.

  • Dexter seisoen 8, die laaste seisoen, begin 29 Oktober 21:00 op M-Net.

  • Teen Wolf seisoen 3 begin 4 Oktober om 19:30 op M-Net Series Showcase.

  • Parenthood, seisoen 4, begin 9 Oktober om 8.30 nm op M-Net Series Showcase

  • Boardwalk Empire seisoen 4 begin 10 Oktober om 21:30 op M-Net Series Showcase.

  • The Office seisoen 9, die laaste seisoen, begin 14 Oktober om 19:00 op M-Net Series Showcase.

  • The Mindy Project seisoen 2 begin 24 Oktober om 19:00 op M-Net Series Showcase. Dis een van my absolute gunsteling-komedies. Mindy Kaling van The Office speel ’n ongeluksvoël van ’n dokter op soek na liefde en sy is skreeusnaaks.

Oktober kan gerus nou maar aanbreek!

- Natalie Cavernelis

Volg Natalie op Twitter @NatalieCav. Lees haar vorige TV-blogs:

Ons wag op die MasterChef-eindronde

Fokus, True Blood, fokus

Verslaaf aan Katvisse en die Kardashians

Verban Junior uit die Dome, sê ek!

10 fantastiese dans-roetines op TV

8 nuwe reekse op pad

Die Emmys, The Fixer en dié wat beroof is . . .

Ontmoet my TV-mans

TV-paartjies wat bymekaar moet uitkom

10 nuwe TV-reekse!

Kyk! Die meisie van My Girl het grootgeword

Wat ’n woeste Game of Thrones!

TV se stylvolste karakters

Watter ander ouers is moeg vir Barney?

Dierbare Emily

The Fixer se koel klere

Is dit net ek?