Komedie.

2010.

85 min.

Met Michael Cera, Portia Doubleday en Steve Buscemi.

Regie: Miguel Arteta.

16TSD. 

Ons dink: 4/5

NICK TWISP (Cera) is ’n eksentrieke bleeksiel van ’n tiener met net een gedagte in sy kop: om sy maagdelikheid te verloor.

En dit raak ’n moontlikheid toe sy ma se eienaardige kêrel die dorp inderhaas ná ’n skelm motortransaksie moet verlaat en hulle na ’n vakansieoord neem.

Daar ontmoet Nick ’n oulike meisie, Sheeni (Doubleday).

Sy deel sy liefde vir alles wat Frans is en Nick is daarvan oortuig dat sy die liefde van sy lewe is.

Maar dan is die vakansie verby.

Die twee beraam ’n plan sodat hulle saam kan wees: Sheeni gaan vir Nick se pa (Buscemi) werk kry naby haar huis, en dan gaan Nick sulke verskriklike goed aanvang dat sy ma hom na sy pa sal stuur om daar te bly.

Met Nick se alter ego – ’n kettingrokende, seepgladde Fransman genaamd Francois – se aanmoediging ruk dinge vinnig handuit . . .

Dis komiese anargie op sy beste – stel jou ’n mengsel van Superbad en The Hangover voor – met onverwagse kinkels, uitspattige karakters en histeriese situasies om elke hoek en draai.

Daarby oortref Michael Cera homself met sy spel as die bleeksiel Nick én die koel Francois.

Kyk dit!