Ons dink: 4/5

Mavis Gary (Charlize Theron), ’n geskeide alkoholis en jeugromanskrywer, besluit ’n versoening met haar hoërskoolkêrel Buddy (Patrick Wilson) is net wat sy nodig het om haar leë bestaan sin te gee.

Dat hy gelukkig getroud is met die ma van sy pasgebore baba, pla haar min; sy keer terug na haar tuisdorp om sy huwelik te verwoes en hom terug te wen.

Die span agter Juno, die regisseur Jason Reitman en skrywer Diablo Cody, skep ’n skerp swart komedie rondom die selfsugtige, laakbare antiheldin. Hulle prikkel die lagspiere met ongemaklike, realistiese situasies.

Charlize verdien ’n Oscar vir haar spel: Mavis is nog dieselfde gemene meisie as op hoërskool, maar al is sy irriterend

en pateties, lewer Charlize so ’n genuanseerde vertolking dat jy nie jou oë van haar kan afhou nie.

Die ruwe toon sal ongelukkig nie in almal se smaak val nie.