Komediedrama.

Met Tyler Perry, Janet Jackson en Jill Scott.

Regie: Tyler Perry.

2010. 106 min.

13T.

Ons dink: 3/5

In die opvolg op Why Did I Get Married? (2007) hervat Perry sy rol as Terry, ’n toegewyde eggenoot en pa wat dié keer ernstig twyfel aan sy vrou se getrouheid.

Die egpaar reis na die Bahamas vir ’n jaarlikse kuier saam met vriende – en kom agter al die pare het huweliksprobleme.

Patricia (Jackson), ’n verhoudingskenner, kan nie eens met haar eie man praat nie, terwyl die babbelkous Angela oortuig is haar rokjagter-man, Marcus, haal weer sy ou streke uit. Die pasgetroudes Sheila (Scott) en Troy het geldelike probleme, en dit lyk of Sheila se eks haar met alle mag wil terugwen.

Dinge ruk handuit toe hulle almal terugkeer Atlanta toe . . .

Aanhangers van Perry sal dit nie wil misloop nie. Dit spring stadig weg, maar jy sal kort voor lank vasgenael sit.

Soos gewoonlik is daar snaakse oomblikke én lewenslesse. Selfs al het jy die eerste een misgeloop, sal jy steeds kan bybly.