Ons dink: 3/5

2012. 93 min

O

Komedie

Die drie lomperds is terug wat in 1925 as Ted Healy and His Stooges hul verhoogdebuut gemaak en in die 60’s en 70’s die jong klomp in die vlooiflieks laat skater het.

Hulle is nou nutsmanne in die weeshuis waar hulle grootgeword het, en die nonne aan die stuur van sake sit met hul hande in die hare. Sedert hul kinderjare het Moe (Chris Diamantopoulos), Larry (Sean Hayes) en Curly (Will Sasso) se manewales die inrigting geld gekos en nou is hulle op die punt om te sluit. Die lot van ’n nuwe geslag weeskinders spoor die driestuks aan om te probeer geld insamel.

Op die ou end huur ’n vrou met al die regte rondings (Sofía Vergara) hulle as moordenaars en hulle beland in ’n werklikheidsreeks. Die destydse Stooges in hul grys flenniebroeke sou trots gewees het op hierdie vars, nuwe weergawe. Dis hope pret, sielvol en die spel van Jennifer Hudson en Jane Lynch as nonne gee diepte daaraan. Word aanbeveel.

– Ronel Scheffer