Romantiese komedie.

Met Jennifer Aniston en Jason Bateman.

Regie: Josh Gordon en Will Speck.

2010. 97 min.

13O.

Ons dink: 3/5

Haar biologiese horlosie tik kliphard en daar’s geen man in haar lewe nie. Daarom besluit Kassie Larson (Aniston) om met ’n spermskenker se hulp ma te word.

Haar beste vriend, Wally (Bateman), het nog nooit die moed gehad om vir haar te sê hoe hy oor haar voel nie en probeer haar ompraat om van plan te verander.

Die aand dat Kassie haarself wil bevrug, hou sy ’n partytjie. ’n Aangeklamde Wally ontdek die houer met skenkersaad in die badkamer en laat die kosbare inhoud per ongeluk in die wasbak uitloop. Dan vervang hy dit paniekerig met sy eie.

Jare later loop Wally, steeds ongelukkig en alleen, Kassie en haar sewejarige seun raak . . .

Die hoofrol pas Aniston soos ’n handskoen – ’n pluspunt vir aanhangers, maar irriterend as jy haar al te veel in hierdie soort rol gesien het. Bateman is briljant as die onbeholpe maar opregte Wally. Dis roerende, genotvolle kykstof.