Fantasie-avontuur.

Met Nicolas Cage, Jay Baruchel en Alfred Molina.

Regie: Jon Turteltaub.

2010. 104 min.

13O.

Ons dink: 2/5

Balthazar Blake (Cage) is ’n bejaarde towenaar op ’n eeue lange sending om ’n opvolger vir die towenaar Merlin op te spoor en op te lei.

Dié sal dan sy magte erf om die bose te bestry. Balthazar spoor eindelik sy aspirantleerjonge, Dave Stutler (Baruchel), in die hedendaagse New York op. Maar eers moet hulle die magtige skurk Maxim Horvath (Molina) op sy plek sit. Hy is daarop uit om ’n spul bose demone en towenaars te bevry en verwoesting te saai.

Wat veronderstel is om ’n wipwarit van drake, ontploffings en onheilspellende nagtelike geluide te wees, eindig êrens tussen ’n ernstige fliek en ’n prettige avontuur en slaan in albei gevalle die bal mis.

Die onophoudelike spesiale effekte raak gou vervelig en Cage se half-aan-die-slaap vertoning kelder dit verder.

Teleurstellend met bitter min betowering.

Bonus: kortflieks, uitgesnyde tonele.