Ware lewensdrama.

Met Jesse Eisenberg, Andrew Garfield, Armie Hammer en Justin Timberlake.

Regie: David Fincher.

2010. 116 min.

13TSD.

Ons dink: 4/5

Hierdie betowerende rolprent is op die boek The Accidental Billionaires deur Ben Mezrich gegrond.

Dit gaan oor Mark Zuckerberg wat in 2003 as Harvard-student ’n sosialenetwerk-webtuiste genaamd Facebook geskep het – en binne ’n paar jaar het dit 500 miljoen gebruikers wêreldwyd gehad en was hy die jongste biljoenêr nog.

Maar al is Zuckerberg (Eisenberg) ’n geniale programmeerder, is hy ’n nare karakter.

Hy steel skaamteloos die idee vir Facebook by die tweeling Cameron en Tyler Winklevoss (albei deur Hammer gespeel). En nadat hy met die internet-entrepreneur Sean Parker (Timberlake) kragte saamgesnoer het, verraai hy sy beste vriend, Eduardo Saverin (Garfield), wat hom die geld gegee het om met die webtuiste te begin.

Eisenberg skitter in die rol van ’n jong man wat alles behalwe vriende het, en die regie en draaiboek is uit die boonste rakke.

Met agt Oscar-benoemings, onder meer vir die beste rolprent en die beste akteur (vir Eisenberg), bied dit ’n fassinerende blik op die onlangse geskiedenis.

Bonus: kommentaar.