Ware lewensdrama.

Met Kristen Stewart, Dakota Fanning en Michael Shannon.

Regie: Floria Sigismondi.

2010.

102 min. 16TSD.

Ons dink: 3/5

I love Rock ’n Roll, lui Joan Jett se toptreffer van 1981, en dit som haar passie vir harde elektriese kitaarmusiek die beste op.

Haar verhaal begin ses jaar tevore, toe sy as tiener met glam-rock behep raak en die eksentrieke platevervaardiger Kim Fowley (Shannon) ontmoet.

Hy besef ’n tiener-meisiegroep hou groot moontlikhede in en help Joan (Stewart) The Runaways saamstel met die 15-jarige Cherie Currie (Fanning) as smeulende blonde voorsanger.

Hierdie eerlike verhaal oor hul kortstondige loopbaan is een van die beste flieks nog oor waarom ruk-en-rol so ’n verleidelike dwelm vir vryerige, rebelse tieners is.

Hul sexy aanslag het teruggeplof, dwelms het Currie se loopbaan vernietig, maar hulle het geskiedenis gemaak deur hul kleim af te steek in ’n bedryf wat deur mans oorheers word.

Hul rou, dringende musiek is nou nog net so kragtig. Met die regie haper iets soms, maar die akteurs is uitstekend en die klankbaan rock.

Bonus: kommentaar, kortflieks.