Ons dink: 3/5

2012. 88 min.

OG.

Animasie-avontuur.

Die meesters van enkelraam-animasie by die animasiemaatskappy Aardman (Wallace & Gromit) het nog ’n lawwe komedie propvol aweregse Britse humor gemaak.

Die storie draai om die selftevrede maar nikswerd seerowerkaptein (met energieke stemwerk deur Hugh Grant) wat die prys vir seerower van die jaar wil wen. Hy loop Charles Darwin (David Tennant) raak en vind uit sy papegaai is eintlik ’n dodo.

Wat volg, is ’n mengsel van verraad, swaardgevegte en algehele verspotheid. Dit sou ’n viersterfliek gewees het as dit nie was vir ’n paar terloopse wrede tonele en die seerowerkaptein se irriterende selfsug nie, maar die verstommende aandag aan detail en tonne slim grappies maak dit die kyk werd.