Aksie-komedie.

Met Will Ferrell, Mark Wahlberg en Eva Mendes.

Regie: Adam McKay.

2010. 107 min.

16T.

Ons dink: 3/5

Na 'n skietongeluk mag die eksentrieke polisiespeurder Allen Gamble (Ferrell) net kantoorwerk doen. Hy is doodtevrede met die situasie, maar nie sy oorywerige maat Terry Hoitz (Wahlberg) nie.

Dan word twee ster-polisiemanne uitgewis terwyl hulle rowers agternasit en hul lessenaargebonde kollegas – die “ander ouens” – moet terug strate toe.

Maar Allen is nog net so sleg soos altyd met vuurwapens en ’n chaos breek los toe hulle teen ’n groep huursoldate te staan kom. Intussen kan Terry nie sy oë van Allen se sexy vrou (Mendes) afhou nie . . .

Ferrell se ster as komediant het die afgelope ruk verflou, maar hier kan hy sy tande in ’n goed geskrewe, veelvlakkige

karakter inslaan en is hy weer op sy stukke. En Wahlberg, wat vir aksierolle uitgeknip is, verras met goeie komiese tydsberekening, veral in tonele saam met Mendes.

Met genoeg lagwekkende oomblikke en volop aksie vermaak dit enduit.

Bonus: uitgesnyde en verlengde tonele, kortflieks