Ons dink: 3/5

Komediedrama.

Met Jill Scott, Anika Noni Rose en Desmond Dube.

Regie: Charles Sturridge, Tim Bricknell en Tim Fywell.

2008. 105 min.

13O.

Die avonture van Botswana se “eerste vroulike speurder” haal met hierdie genotvolle rolprent die silwerdoek.

Soos aanhangers van Alexander McCall Smith se boeke sal weet, is die sake wat Mma Ramotswe ondersoek, nie die stof waarvan speurflieks gewoonlik gemaak word nie.

Sy wil dinge in haar geliefde land regruk en met ’n mengsel van skerp waarneming en intuïsie sit sy mans op hul plek wat wat hul vroue verneuk of “slegte pa’s” is.

Dis nie alles lighartig nie – Mma Ramotswe, pragtig vertolk deur die sanger en aktrise Jill Scott, het self mishandeling oorleef. Haar sterk morele waardes maak haar onwrikbaar wanneer sy op die spoor van slegte ouens is. Tog is die fliek grotendeels lig en lieflik.

Met Botswana as agtergrond, talle bekende plaaslike akteurs en onmiskenbare Afrika-kleure, het dit tekstuur en egtheid.

Dis wonderlik om so ’n positiewe uitbeelding van Afrika te sien, met goeie mense wat ’n goeie lewe lei en opkom vir wat reg is.