Ons dink: 4/5

Drama. Met Woody Harrelson en Ben Foster.

Regie: Oren Moverman.

2009.

113 minute.

16TSN.

Dis beslis nie ligte Saterdag-vermaak nie!

Dis ’n uitmergelende maar lonende kykervaring, want dit bied ’n sonderlinge blik op die impak wat nie net die ontvangs nie, maar ook die oordrag van slegte nuus op die boodskapper het.

Dis net so strak en hiperrealisties soos The Wrestler.

Kaptein Tony Stone (Harrelson) dra al jare lank slegte nuus aan die naasbestaandes van gesneuwelde soldate oor.

Staf-sersant Will Montgomery (Foster) is ’n groentjie wat nog moet leer hoe om sy afstand te behou en dieselfde rympie telkens te herhaal sonder om deur die treurende ontvangers geraak te word.

Hoe is dit menslik moontlik om so iets weer en weer te moet doen?

Harrelson en Foster lewer skitterspel.

Jy ys elke keer dat hulle weer voor ’n toe deur te staan kom. Wat gaan die reaksie van die mense daaragter wees?

“Hierdie fliek sal jou die oorlog laat haat en die soldate laat liefkry,” meen Harrelson. Inderdaad.