Komediedrama.

Met Annette Bening, Julianne Moore en Mark Ruffalo.

Regie: Lisa Cholodenko.

2010. 105 min.

16TNS.

Ons dink: 4/5

As jy enige vooropgestelde idees het oor hoe ’n gesin behoort te lyk en werk, moet jy vinnig daarvan ontslae raak as jy hierdie fliek wil geniet, want hier is ongelooflik baie om te geniet.

Nic (Bening) en Jamie (Moore) is ’n lesbiese paartjie wat elk ’n kind, ’n dogter en seun, met dieselfde spermskenker, Paul (Ruffalo), se hulp gehad het.

Die kinders is nou al tieners en nuuskierig oor hul biologiese pa. Hulle spoor hom op, reël ’n ontmoeting met hom agter hul ma’s se rug, en sit so die bal aan die rol vir ’n uiters genotvolle kyk-ervaring.

The Kids Are All Right is vol histeries snaakse, maar ook lewensgetroue en hartseer oomblikke en dit sal jou baie vrae oor jou eie lewensuitkyk laat vra.

Dis vir vier Oscars benoem, onder meer in die kategorie vir die beste aktrise vir Bening en ook vir beste rolprent.