Ons dink: 4/5

Politieke riller.

Met Ewan McGregor, Pierce Brosnan, Olivia Williams en KimCattrall.

Regie: Roman Polanski.

2010. 125 min.

13GT.

Toe ’n spookskrywer (McGregor) hoor sy voorganger is in geheimsinnige omstandighede dood, twyfel hy of hy die voormalige Britse premier Adam Lang (Brosnan) se memoires moet voltooi.

Op die ou end doen hy dit tog ter wille van die geld.

Maar dan beskuldig ’n voormalige minister van buitelandse sake Lang van oorlogsmisdade–dit het te doen met die oorhandiging van vermeende terroriste aan die CIA om gemartel te word.

En toe die spookskrywer vermoed Lang is by ’n reuse internasionale toesmeerdery betrokke en ongemaklike vrae vra, begin mense ontstellend vinnig sterf . . .

Die rolprent spring stadig weg, maar dit versnel soos ’n wegholtrein en het genoeg kinkels om jou belangstelling te behou.

Dit toon klaarblyklike ooreenkomste met die voormalige Britse premier Tony Blair wie se biografie onlangs verskyn het.

Al is dit nie een van die legendariese regisseur Polanski se bestes nie, is dit tog ’n goeie keuse, veral as jy The Constant Gardener of Frost/Nixon geniet het.

Bonus: kortflieks.