Aksie.

Met Morgan Freeman, Antonio Banderas en Rhada Mitchell.

Regie: Mimi Led

16ST.

Ons dink: 3/5

’n Berugte dief, Keith Ripley (Freeman), werf ’n jonger – en veel sjarmanter–handlanger, Gabriel Martin (Banderas). Dié moet hom 40 miljoen dollar se juwele help steel sodat hy sy skuld by die Russiese Mafia kan delg.

Die twee wil oënskynlik die onmoontlike regkry: twee antieke Fabergéeiers uit die streng bewaakte gevorderde-tegnologie-kluis van ’n Russiese museum in New York steel.

Maar nie alles verloop volgens plan nie – die polisie kom van hul planne te hore en die KGB ontvoer Ripley se peetdogter (Mitchell).

Hierdie aksiebelaaide rolprent–ook bekend as Thick As Thieves – van die gevierde regisseur Mimi Leder (Deep Impact) is dadelik op DVD uitgereik en spog met ’n sterbelaaide rolverdeling.

Dit wemel van bedrog en diefstal, maar het nie dieselfde diepte as ander roofflieks soos Ocean’s 11 nie.

Aanhangers van Freeman en Banderas moenie te veel verwag nie. Jy kan die kinkels al van ver af sien aankom, maar dis nogtans vermaaklik.