Ons dink: 3/5 

2012

82 min

18TS

Politieke komedie

Ná vier ampstermyne kom die voorheen onbestrede kongreslid Cam Brady (WILL FERRELL) te staan teen die nuweling Marty Huggins (ZACH GALIFIANAKIS). Brady is net in die politiek vir die geld en Huggins is ’n marionet wat deur inhalige sakelui beheer word. Hulle het sy stem nodig om rampspoedige wetgewing deur te voer.

Omdat politieke debatte bo hul vuurmaakplek is, wend Brady en Huggins hulle tot kinderagtige poetse – soos om skaamkryvideo’s van mekaar op die internet te plaas – om kiesers te wen. Ferrell is op sy nare beste en min mense kan Galifianakis se vertolking van ’n koddige karakter oortref. Saam laat hulle jou baie lag en ineenkrimp.

Dylan McDermott, as ’n rigtinglose veldtogbestuurder, en John Lithgow, Dan Aykroyd en Brian Cox as die sakelui wat die toutjies trek, lewer almal sterk vertonings. The Campaign is ’n parodie op Amerikaanse verkiesings, maar die waarheid oor sakereuse wat die politiek beheer, tref die kol.

– WILLEM MÖLLER