SANDRA BULLOCK het ’n Oscar vir die beste aktrise en ’n Golden Globe vir hierdie rolprent gewen wat op ’n ware verhaal gegrond is.

Sy speel Leigh Anne Tuohy, ’n vurige, ryk, baasspelerige ma van twee en ’n toegewyde Christen. Michael Oher (Aaron), ’n 17-jarige seun sonder heenkome, stap een aand in die reën toe Leigh Anne hom nader en aanbied dat hy by haar kan bly.

Dis ’n vreemde ondervinding vir Michael, wat uit die swak deel van die stad kom en in sy kinderjare tussen pleeghuise rondgeswerf het. Kort voor lank word hy deel van die Tuohy-gesin, en toe hy vir die skoolspan begin voetbal speel, verander dit sy lewe.

Bullock lewer ’n boeiende vertoning en Aaron se skitterende uitbeelding van Michael maak dit moeilik om nie hierdie verwese seun jammer te kry nie.

Party kykers sal die rolprent dalk ’n bietjie te sentimenteel en selfs neerbuigend vind, maar die humoristiese dele maak dit die kyk werd en die morele boodskap wat dit uitdra, laat die hart warmer klop.

Drama. Met Sandra Bullock, Quinton Aaron enTim McGraw. Regie: John Lee

Hancock. 2009. 123 min. 13OBT.

Ons dink: 3/5