Komediedrama.

Met Troye Sivan, John Cleese en Jamie Royal.

Regie: Donovan Marsh.

2010. 102 min.

10TGS.

Ons dink: 4/5

Die fliek is op die gewilde boek deur John van de Ruit gegrond. Milton (Sivan) kry op 13 ’n beurs om by ’n gesogte seunskool in KwaZulu-Natal skool te gaan.

Die verstrooide Spud wil bitter graag by die koel ouens in sy koshuis inpas, maar verval onder die bleeksiele.

Al ligpunt tussen rampspoedige krieketwedstryde deur is sy vriendskap met The Guv (Cleese), sy eksentrieke Engels-onderwyser.

Marsh, wat ook die draaiboek geskryf het, kwyt hom goed van sy taak om ’n episodiese roman in ’n boeiende, samehangende vertelling te omskep.

Die Suid-Afrikaanse politiek van die 90’s word naatloos met die fliek verweef en gee dit ’n outentieke plaaslike gevoel sonder om die hooftema te oorheers.

Sivan is uitstekend as die naïewe held. Sy tonele saam met Cleese is geloofwaardig en Royal as die beminlike, eienaardige Gecko verdien spesiale vermelding.

Bonus: kortflieks, kommentaar, uitgesnyde tonele.