Ons dink: 4/5

2012

122 min

13V

Fantasie-avontuur

Prinses Sneeuwitjie (Kristen Stewart) word vir sewe jaar toegesluit nadat haar pa se nuwe bruid, Ravenna (Charlize Theron), hom vermoor en die koninkryk oorneem het. Toe sy na die Donker Woud ontsnap, stuur Ravenna ’n jagter om haar terug te bring. Die jagter (Chris Hemsworth) is een van die min mense wat die gevare in die woud kon oorleef. Die somber sprokie verskil hemelsbreed van die stroopsoet fliek Mirror Mirror.

Rupert Sanders, wat sy debuut as ’n regisseur maak, gebruik die soort realisme van The Lord of the Rings om sy fantasiewêreld werklik te laat voel en skep ’n treffende kontras tussen grieselige en pragtige tonele. Theron oorheers met haar kil, aweregse vertolking en gee ’n afgesaagde karakter nuwe lewe. Stewart sorg vir ’n passievolle, sterk Sneeuwitjie. Hemsworth is ook roerend as die hartseer, tawwe ou met die hart van goud.

– SANDRA VISSER