Ons dink: 4/5

2012

143 min

13G

Aksieriller

Die suksesvolste rolprentreeks is 50 jaar oud en op sy gewildste: Dié jongste Bond-fliek het R9,9 biljoen verdien. En dis welverdiend, want dié treffer gee nuwe skop aan ou Bondelemente, soos mooi vroue en ’n mal skurk.

DANIEL CRAIG, die beste Bond sedert Sean Connery, herstel nadat hy geskiet is. Sy baas, M (Judi Dench), stuur hom nogtans om die kuberterroris Silva (’n byna onherkenbaar grillerige Javier Bardem) vas te trek, maar Silva is besete en het duistere motiewe.

Dis Craig se skerpsinnigste Bond. Daar is speelse verwysings na klassieke Bond-oomblikke, en bekende karakters kry nuwe lewe, soos Ben Whishaw as die bleeksiel Q. Danksy die regisseur, Sam Mendes, se vars benadering en ’n slim draaiboek waarin M en Bond se ma-seun-verhouding sentraal staan en lig gewerp word op Bond se agtergrond, waaroor tot dusver maar min bekend was, bly 007 so vermaaklik soos altyd.

– SANDRA VISSER