Aksiekomedie.

Met Michael Cera, Mary Elizabeth Winstead en Ellen Wong.

Regie: Edgar Wright.

107 min. 2010.

13OTG.

Ons dink: 4/5

Scott Pilgrim (Cera) is ’n 22-jarige jansalie en bleeksiel wat in ’n garage-orkes baskitaar speel. Hy gaan met ’n oulike hoërskoolmeisie (Wong) uit wat so reg uit ’n manga-komedie kom.

Sy pittige gay kamermaat (Kieran Culkin) skop hom gereeld uit sodat hy en sy jongste kêrel alleen kan wees.

Dan ontmoet Scott vir Ramona Flowers (Winstead), ’n nors, kil meisie met pienk hare, en sy wêreld sal nooit weer dieselfde wees nie. Ramona het sewe bose ekse wat keer dat ander ouens met haar uitgaan en Scott moet elkeen verslaan as hy haar hart wil wen.

Die frenetiese, visueel treffende fliek loop te koop met sy liefde vir videospeletjies, strokies en popkultuur. Tonele waar Scott in die Mortal Kombat-styl met verskeie bose ekse baklei – van ’n heldersiende veganis tot ’n egoïstiese aksiester – is deurspek met skreeusnaakse sêgoed.

Tog het dit ’n ernstige boodskap oor groot en verantwoordelik word.

Bonus: kommentaar, uitgesnyde tonele, kortflieks.