Ons dink: 4/5

2012

135 min

18TSGD

Misdaadriller

Twee boesemvriende begin dagga kweek en maak geld soos bossies. Die band tussen die oudsoldaat Chon (Taylor Kitsch) en die filantroop Ben (Aaron Johnson) is ook so heg, hulle gee nie om dat albei ’n verhouding met die rykmansdogter O (Blake Lively) het nie.

Hul idilliese bestaan in Kalifornië word bedreig toe die Mexikaanse dwelmbaas Elena (Salma Hayek) hul onderneming wil oorneem en g’n teëspraak duld nie. Hulle probeer haar flous, maar toe laat sy O ontvoer om hulle te dwing om haar aanbod te aanvaar. Chon en Ben trek laer en probeer O red: Hulle slaan toe op Elena se verspreidingsroetes, saai nog agterdog in haar wankelende binnekring en ontvoer eindelik haar dogter.

Die geweld is vreesaanjaend en Elena se handlanger, Lado (Benicio del Toro), is skrikwekkend. Die aanbieding herinner aan Quentin Tarantino se Kill Bill. Die regisseur, Oliver Stone, hou jou aan die raai met baie kinkels in die boeiende verhaal, en die karakters is geloofwaardig, al is hulle hoe wreed.

– Mariana Loots