Aksieriller.

Met Angelina Jolie, Liev Schreiber en Chiwetel Ejiofor.

Regie: Phillip Noyce.

2010. 96 min.

16G.

Ons dink: 3/5

Jolie speel Evelyn Salt, ’n hoogs opgeleide kanniedood van ’n CIA-agent. Maar haar lewe stort in duie toe ’n Russiese oorloper, Orlof, haar daarvan beskuldig dat sy heimlik ’n dubbelagent uit die Sowjet-era is en saamsweer om die Russiese president op ’n begrafnis in New York te vermoor.

Die duiwel is los toe Orlof ontsnap en Salt op vlug slaan om haar man te beskerm. Dan span haar baas (Schreiber) en die CIA-agent vir interne sake (Ejiofor) saam om haar op te spoor.

Jolie oorheers hierdie spioenasieriller.

Daar is hope aksie, veral deur haar dodelike karakter met ’n pruik wat haar eie wapens maak en een slagoffer met ’n wodkabottel ombring. Haar rol is oorspronklik vir ’n man geskryf – Tom Cruise het ons almal ’n guns bewys deur kop uit te trek sodat hy sy loketmislukking Knight and Day kon maak.

Aanhangers van aksieflieks soos The Bourne Identity en Jolie se Wanted sal dol wees hieroor.