Aksie-komedie.

Met Bruce Willis, Helen Mirren en John Malkovich.

Regie: Robert Schwentke.

2010.

106 min. 13GT.

Ons dink: 4/5

Na sy aftrede lei Frank (Willis) ’n vervelige lewe in die voorstede. Al opwinding in sy dag is toe hy Sarah (Mary-Louise Parker) bel wat sy pensioen hanteer.

Dan slaan ’n moordbende skielik op sy huis toe, en nadat hy komkommerkoel en met ’n grynslag met hulle afgereken het soos net Bruce Willis kan, kry hy sy ou kamerade bymekaar om uit te vind wie hulle wil vermoor.

Want Frank is ’n voormalige CIA-sluipmoordenaar en sy vriende oudspioene, vandaar die titel Red vir Retired, Extremely Dangerous.

Dis groot pret om gerekende akteurs soos Mirren en Morgan Freeman op hul stukke te sien in hierdie oordadige aksiefliek met die tong ferm in die kies.

As jy die idee skreeusnaaks vind dat Mirren met ’n masjiengeweer skiet en Malkovich ’n opgestopte varkie as geheime wapen ronddra, sal jy dit geniet om te kyk hoe die oues van dae die jonges wys hoe dinge eintlik gedoen moet word.