Komediedrama.

2010. 87 min.

Met Catherine Keener, Rebecca Hall, Amanda Peet en Oliver Platt.

Regie: Nicole Holofcener.

13TNS.

Ons dink: 4/5

In die regisseur Nicole Holofcener se flieks is daar altyd karakters met sterk neurotiese trekke wat ’n mens nogal aan Woody Allen se skepsels herinner.

Catherine Keener, wat gereeld in haar flieks speel, is hierdie keer Kate, ’n ma en eggenote wie se gewete haar ry, want sy voel sy maak nie werklik ’n verskil in die lewe nie.

Sy en haar man besit en bestuur ’n winkel waar hulle hoofsaaklik gestorwenes se tweedehandse meubels teen hoë pryse verkoop.

Dit maak Kate onrustig. Sy voel ook skuldig omdat sy en haar man hul bejaarde buurvrou dood wens. Want sien, hulle wil buurvrou se woonstel koop om hulle s’n groter te maak, maar hulle moet eers by haar twee kleindogters verbykom.

Kate se skuldgevoelens is soms histeries snaaks, ander kere roerend, maar daarvoor moet kykers ’n baie spesifieke droë, donker humorsin hê.

’n Slim fliek wat stof tot nadenke bied.