Die probleemtiener Percy Jackson (Lerman) se lewe word deurmekaar gekrap wanneer hy uitvind sy pa is die Griekse god van die see, Poseidon.

Zeus, die heerser van die Berg Olimpus, dink Percy het sy weerligstraal gesteel en hy moet dit binne 14 dae terugbring, of anders sal die Olimpiese gode verwoesting op die aarde saai. Sy beste vriend Grover (Jackson), ’n bosgod, en sy onderwyser, ’n perdmens (Pierce Brosnan), neem hom na ’n geheime opleidingskamp vir halfgode (kinders wie se een ouer ’n god is).

Saam met Grover en Annabeth (Daddario), dogter van die godin Athene, probeer Percy sy ma uit die kloue van Hades, die god van die Doderyk, red en die ware weerligdief vastrek . . .

Die rolprent spring te vinnig weg en van die karakters ontwikkel nie ten volle nie, maar die vermenging van Griekse mitologie en tienerangs is vars en vermaaklik.

Die fliek neem homself nie te ernstig op nie en het genoeg aksie, intrige en humor om die hele gesin te boei.

Bonus: kortflieks en uitgesnyde tonele.

Fantasie-avontuur. Met Logan Lerman, Brandon T. Jackson en Alexandra Daddario. Regie: Chris Columbus. 2009. 114 min. 13OB.

Ons dink: 3/5