Ons dink: 4/5 

Animasie-fantasie

2012

88 min

O

Die jong Norman (Kodi Smit-McPhee se stem) word verstoot, want hy kan met spoke praat. Maar toe ’n 300 jaar oue vloek ’n spul zombies laat wakker skrik, moet hy sy dorp red. Al is dit ’n stop-beweging-animasiefliek met ’n bonatuurlike tema, soos die regisseur Tim Burton se Corpse Bride (2005) en Frankenweenie (2012), het dit ’n heel ander aanslag en voorkoms.

Met sy maltrap-intrige en tong-in-die-kies-humor herinner ParaNorman jou aan tienergruwelkomedies soos Gremlins (1984) en Hocus Pocus (1993) en die gedetailleerde animasie sorg vir pragtige kykstof. Norman en sy helpers, sy selfbehepte suster Courtney (Anna Kendrick), sy optimistiese vriend Neil (Tucker Albrizzi), dié se domkop-broer, Mitch (Casey Affleck) en die boelie Alvin (Christopher Mintz-Plasse), is prettige karakters.

Tussendeur is daar selfs ’n bietjie maatskaplike kommentaar. Maar van die vreesaanjaende oomblikke en grillerige zombies kan jong kinders bra bang maak.

– SANDRA VISSER