Romantiese drama.

Met Colin Farrell, Alicja Bachleda en Alison Barry.

Regie: Neil Jordan.

2009. 104 min.

13OG.

Ons dink: 3/5

Colin Farrell keer na sy Ierse wortels terug in hierdie bekoorlike romanse oor ’n ongelukkige visserman genaamd Syracuse.

Hy kry ’n vrou in sy net wat haarself Ondine noem. Wie is sy, waar kom sy vandaan en hoekom mag niemand anders haar te siene kry nie?

Syracuse se voorbarige dogter, Annie (Barry), dink sy is ’n selkie, ’n magiese rob wat op droë grond sy pels kan afgooi en ’n vrou word. Dalk kan Ondine haar nierversaking genees en weer vir haar pa hoop gee?

Die regisseur Neil Jordan (The Crying Game, Interview with the Vampire) kombineer Keltiese oorlewering en die romantiese beeld van Ierland met hedendaagse probleme in die land soos armoede en drankmisbruik en skep ’n fabel wat, soos Syracuse se kans op geluk, heeltyd deur die wrede werklikheid bedreig word.

Die pas is soms stadig, maar Farrell en Barry het ’n roerende pa-dogter-dinamika en Bachledabetower as die geheimsinnige meermin.