Komedie.

Met Elisha Cuthbert, Tim Allen en Andie MacDowell.

Regie: Howard Michael Gould.

2009.

94 min. 13O.

Ons dink: 3/5

Henry Lefay (Allen), ’n glibberige TV-verkoopsman, geniet dit byna net soveel om te trou as om te skei.

Tydens ’n stoute naweek saam met die verloofde met wie hy wil trou sodra sy egskeiding afgehandel is, sterf hy in ’n fratsongeluk met ’n vlieërplank.

Sy enigste kind, Barby (Cuthbert), haar ma (MacDowell) en Henry se vyf ander ekse probeer sy sake uitpluis en sy begrafnis reël. Maar elkeen het haar eie idee oor wie hy was en wat hy sou wou gehad het. En is dit regtig die einde van Henry?

Die storie draal te lank en Barby se eie romantiese avonture oortuig nie. Maar Henry se ekse (onder wie Paz Vega en Jenna Elfman) kwyt hulle goed van hul taak en hul katgevegte oor sy oorskot is regtig snaaks.

Allen geniet dit gate uit om die hopeloos romantiese Henry te speel en sy selfgemaakte TV-advertensies is skreeusnaaks, en maak ’n andersins gemiddelde komedie vermaaklik genoeg.