Ons dink: 5/5

2012

90 min

13SG

Komedie-drama

Op ’n ongerepte eiland in Nieu-Engeland glip die 12-jarige weeskind Sam (Jared Gilman) van die Padvinders se somerkamp weg om ’n geheime belofte aan Suzy (Kara Hayward) na te kom. Dié twee bleeksiele is penmaats op die drumpel van ’n romanse en wil saam na ’n afgeleë baai vol seldsame voëls wegloop.

Toe hul verdwyning opgemerk word, gaan ’n ewe eienaardige groepie Padvinders in kakieklere hulle soek saam met Suzy se eksentrieke prokureur-ouers (Frances McDormand en Bill Murray) en die plaaslike polisiekaptein (BRUCE WILLIS). Hulle word opgespoor, maar nou wil Sam se pleegouers hom nie meer hê nie.

Dié seldsame juweel van ’n Wes Anderson-rolprent verdien sy benoeming vir ’n Oscar vir die beste oorspronklike draaiboek. Die ryk, menslike verhaal wat teen die agtergrond van ’n Padvinderskamp ontvou, is vol verrassings. Die idee is so vars en die fliek so goed vervaardig, jy sal telkens weer daarna wil kyk.

– RONEL SCHEFFER