Aksie.

Met Danny Trejo, Jessica Alba, Robert de Niro en Michelle Rodriguez.

Regie: Robert Rodriguez.

2010. 101 min.

18TG.

Ons dink: 4/5

As jy die oorspronklike Machete-lokprent misgeloop het wat amper vier jaar gelede saam met die regisseur se Planet Terror uitgereik is, sal die titel en die DVD-houer jou wel ’n goeie aanduiding gee van wat wag: ’n waansinnige mengelmoes van aksie, seks en geweld in die uitbuitende styl van die 80’s met ’n dik sous toegegooi oor die euwels van immigrantehaat in Amerika.

Machete (Trejo) is ’n Mexikaanse polisieman wie se base hom verraai. Hulle is kop in een mus met die dwelmbaas Torres, wat Machete se familielede uitmoor. Hy vlug na Amerika en word ná ’n mislukte sluipmoordaanval op ’n korrupte politikus ’n voortvlugtige.

As jy die strokiesprentagtige geweld en donker humor kan verduur, is Machete ook die kyk werd danksy sy skitterende rolverdeling.

Sal daar weer ’n fliek wees met sulke uiteenlopende spelers soos Robert de NiroSteven Seagal,Lindsay LohanDon JohnsonMichelle Rodriguez en Jessica Alba?

Bonus: uitgesnyde tonele, kommentaar.