Ons dink: 3/5

Romantiese komedie.

Met Amanda Seyfried, Vanessa Redgrave en Peter Christopher Egan.

Regie: Gary Winick.

2010. 130 min. O. 

As jou idee van ’n lekker aand by die huis ’n sentimentele fliek insluit, is dié een vir jou bedoel. Party kykers sal dit dalk te stroperig vind, maar al daag die storie jou nie juis uit nie, boei dit jou danksy die hoofaktrises, Seyfried en Redgrave, se spel.

Sophie (Seyfried) en haar verloofde vertrek op ’n romantiese reis na Verona in Italië. Sy kom af op die Secretaries of Juliet, ’n groep vroue wat vroue met liefdesprobleme raad gee.

’n 50 jaar oue brief ontroer haar en sy moedig Claire, die skrywer daarvan, aan om Florence toe te kom en haar langverlore liefde op te spoor.

Dit loop uit op ’n reis per motor deur die skilderagtige Italiaanse landskap, terwyl Sophie, Claire, wat nou al in die 60 is, en haar siniese kleinseun na die betekenis van ware liefde soek.

Voorspelbaar maar tog bekoorlik.

Bonus: kortflieks, uitgesnyde en verlengde tonele.