Ons dink: 4/5

Aksiefantasie. Met Aaron Johnson, Chloë Grace Moretz, Nicolas Cage, Christopher Mintz-Plasse en Mark Strong.

Regie: Matthew Vaughn. 2010.

113 min. 16TGD.

'n Bleeksieltiener (Johnson)  raak so behep met superheldfantasieë dat hy ’n kostuum oor die internet bestel en siedaar, hy’s ’n misdaadbestryder genaamd Kick-Ass!

Al probleem is, hy het geen vegvaardighede nie.

Maar toe sy rampspoedige eerste sending daarop uitloop dat ’n staalplaat by sy bors ingeplant word, maak dit hom koeëlvas en pynbestand.

Dan probeer hy weer – en word ’n internetsensasie.

Intussen lei Big Daddy (Cage), ’n oudpolisieman en vigilante, sy dogter Hit Girl (Moretz) in die gevegskuns op.

En gou maai die 11-jarige vuilbekmeisie met ’n pers pruik skurke af sover as wat sy gaan.

Die drie selfaangestelde superhelde span saam teen ’n aartsmisdadiger (Strong) en sy aspirantskurk van ’n seun (Mintz-Plasse) – wat gou self begin mantel dra. ’n Chaos volg . . .

Hierdie spitsvondige, oorspronklike, stylvolle Britse indie-fliek wat op ’n strokiesboek gegrond is, is groot pret en oorskadu maklik die jongste peperduur superheldpogings uit Hollywood.

Maar as strokiesboekgeweld in die Kill Bill-styl nie in jou smaak val nie, hou verby.

Bonus: kortflieks.