Ons dink: 3/5 

85 min 

Animasie-avontuur

Manny die mammoet (stemwerk deur Ray Romano) is steeds ’n senubol, dié keer oor sy tienerdogter, Peaches (Keke Palmer), wat al die rebelse goed aanvang wat tienermeisies gewoonlik in flieks doen. Die vastelande breek van mekaar los (nie juis histories korrek nie) en Manny, Sid die luidier (John Leguizamo) en die sabeltandtier Diego (Denis Leary) dryf op ’n ysberg weg.

Die eerste Ice Age was ’n eenvoudige, roerende storie en die draaiboeke van sy twee opvolgprente het slim kinkels bevat. Maar dié een wemel van nuwe karakters wat nie veel tot die storie bydra nie. Dit beweeg teen ’n dolle tempo om soveel lewensgevaarlike situasies moontlik in te pas. Selfs Scrat, die lawwe eekhoring wie se altrapstreke altyd ’n hoogtepunt is, lyk of sy fut uit is.

Gelukkig is daar genoeg komiese oomblikke, veral danksy die domkop Sid en ’n trop oulike wilde dassies. Die animasie is ook weer uit die boonste rakke.

– SANDRA VISSER