Komediedrama.

Met Jim Carrey, Ewan McGregor en Leslie Mann.

Regie: Glenn Ficarra, John Requa.

2010. 94 min.

16TS.

Ons dink: 4/5

In hierdie merkwaardige rolprent word die ware verhaal vertel van ene Steven Jay Russell(Carrey), ’n legendariese swendelaar, bedrieër en ontsnapkunstenaar wat ’n vonnis van 144 jaar in ’n maksimumsekerheidstronk uitdien, al het hy geen gewelddadige misdaad gepleeg nie.

Die gay Steven is trouens ’n ware romantikus en ter wille van sy liefde vir sy medegevangenePhillip Morris (McGregor) ontsnap hy uit die tronk én sorg hy dat hy daarheen terugkeer sodat hulle bymekaar kan wees.

Phillip het hom innig lief, maar Steven se pogings om te ontnap en sy skelmstreke – hy doen hom as regters, prokureurs en dokters voor en vervals selfs sy eie dood – laat die twee net dieper in die moeilikheid beland.

Carrey is op sy heel beste terwyl hy lewe in die komplekse karakter blaas en McGregor hou goed by hom kers vas met ’n vertolking wat die twee se liefde en hartseer oortuigend uitbeeld. Dit word sterk aanbeveel.

Bonus: onderhoude.