Ons dink: 4/5 

Romantiese komedie

2012

98 min

13SG

Ná 31 jaar van getroude lewe slaap Kay (Meryl Streep) en Arnold (Tommy Lee Jones) in aparte kamers en praat skaars nog. Nadat haar soveelste poging misluk het om die liefdesvlam aan te blaas, skryf Kay hulle in vir ’n week se berading by dr. Feld (Steve Carell). Die grompot Arnold stem teësinnig in, want ten spyte van sy vrees vir intimiteit is hy nog lief vir sy vrou.

Dis ’n diepsinnige, aangrypende fliek en verrassend anders as al die stroperige romantiese komedies vol clichés oor loskop-paartjies in hul 20’s wat vir die eerste keer verlief raak. Dit kyk soms pynlik eerlik en sonder kitsoplossings na ’n ouer paar. Jones en Streep se genuanseerde spel is meesterlik; hulle skep afgeronde karakters vol foute wat jy graag wil hê moet versoen.

Die eerlike besprekings oor ouer mense se seksualiteit kan party kykers ongemaklik laat rondskuif, maar die roerende verhaal maak dit die kyk werd.

– SANDRA VISSER