Riller.

Met Matt Damon, Yigal Naor en Greg Kinnear.

Regie:

Paul Greengrass.

2010. 110 min.

16TG.

Ons dink: 2/5

Die fliekplakkaat basuin dit uit: “Bourne goes epic!” Dit gee die toon aan vir Green Zone, ’n oorlogsriller wat in Bagdad afspeel.

Daarin span Damon en Greengrass, regisseur van The Bourne Supremacy en The Bourne Ultimatum, weer saam.

Die hoof van ’n Amerikaanse militêre eenheid (Damon) moet wapens van massavernietiging opspoor, maar hy kry niks uitgerig nie.

Dan begin hy sy eie ding doen – heel eienaardig sonder om in die bek geruk te word – en stel bedrog en beeldpoetsery rondom Amerika se teenwoordigheid in Irak aan die kaak.

Dis verfrissend anti-oorlog. Ongelukkig is Damon minder oortuigend.

As seksieleier lyk sy babagesig-karakter te lig in die broek om besluite oor lewe en dood te neem en ’n mens kom gou agter die hele rolprent draai om sy teenwoordigheid.

Die handkameraskote verleen ’n mate van geloofwaardigheid, maar ná ’n spanningsvolle begin verflou dit in die tweede helfte tot ’n B-graad-aksiefliek met ’n melodramatiese einde.

Dis Bourne, ja, maar epies? Nie juis nie.