Oorlogsdrama.

Met Viggo Mortensen, Jason Isaacs en Jodie Whittaker.

Regie: Vicente Amorim.

2008. 96 min.

16TG.

Ons dink: 4/5

Miljoen “goeie” Duitsers is voor die Tweede Wêreldoorlog by Nazisme ingesuig terwyl hul land ál meer in ’n chaos gedompel is.

John Halder (Mortensen), ’n professor in Engelse letterkunde, is een van hulle.

Hy het ’n neurotiese vrou, twee aaklige kinders en ’n ma met Alzheimer-siekte en hy skryf ’n boek wat genadedood op menslikheidsgronde voorstaan.

Magtige politici gebruik die boek om die Nazi’s se doodskampe te steun. Die lewe behandel Halder goed, tot sy beste vriend, ’n Jood, hom vra om reisdokumente te reël sodat hy uit die land kan wegkom. Halder se besluit het ’n verreikende uitwerking op baie mense.

Die rolprent ontleed die lewe van die mense wat beweer hulle “voer net opdragte uit” en sluit aan by gebeure in die apartheidsera.

Dit boei van begin tot einde en baie resensente meen dis Mortensen se beste spel nog. Kyk beslis daarna as jy ’n aanhanger van hom is.