Ons dink: 4/5

2012

86 min

7-9O

Animasie-wetenskapsfiksie

Toe iemand sy hond, Sparky, doodry, kry die aspirantwetenskaplike Victor Frankenstein (Charlie Tahan se stem) dit tot sy eie verbasing reg om sy vierpotige vriend op te wek. Hy wil dit geheim hou, maar sy klasmaats vind gou hiervan uit. Hulle wil stilletjies die eksperiment naboots om ’n plaaslike wetenskap-ekspo te wen, maar hul eksperimente loop baie vinnig skeef en hulle wek per ongeluk monsters op.

Victor en Sparky moet tot hul redding kom. Die klassieke gruwelflieks Frankenstein en Pet Cemetery het Tim Burton se ongewone verhaal geïnspireer. Hierdie swart-wit rolprent wat vir ’n Oscar benoem is, sal jou lagspiere prikkel, maar dit beeld ook die hartseer oor die verlies van ’n troeteldier uit. Die trane kan selfs loop.

Plek-plek is dié avontuurfliek dalk ’n bietjie te vreesaanjaend vir jong kinders, maar hondeliefhebbers sal dit en die meesleurende klankbaan deur Danny Elfman beslis geniet.

– CHRISTIAAN BOONZAIER