Ons dink: 4/5

2012

121 min

13GV

Drama

In die eerste helfte van die vorige eeu was daar in die Afrikaanse letterkunde niemand soos Eugène Marais nie. Waar die grootste gros skrywers en digters vroomheid as belangrik voorgehou het, was Marais ’n morfienslaaf met ’n voorliefde vir jong meisies. Hy was ook ’n voorloper in die digkuns en ’n natuurkenner van internasionale formaat, maar het op die ou end selfmoord gepleeg.

Die Wonderwerker, Katinka Heyns se eerste fliek in 14 jaar, handel oor die tyd toe hy in 1908 by ’n gesin in die Waterberge gaan bly het nadat hy weer weens malaria siek geword het. Die hooftema is Marais se vriendskap met die jong Jane Brayshaw en die gevolge daarvan. Die uiteinde is ’n kragtoer met wonderlike spel deur Dawid Minnaar in die hoofrol en ook deur Elize Cawood as die boervrou wat hom versorg en ook op hom verlief raak.

– ELNA VAN DER MERWE