Bonatuurlike riller. Met Chris Messina, Jenny O’Hara en Logan Marshall-Green.

Regie: John Erick Dowdle.

2010. 89 min.

16G.

Ons dink: 4/5

'n Groep mense sit in ’n hysbak vas en elke keer dat die ligte afgaan, word een van hulle vermoor. Wie is die duiwel onder hulle?

Dis ’n kort en kragtige fliek, dalk ’n bietjie te kort om jouself regtig te kan inleef. Die gegewe kon baie maklik vervelig gewees het, maar die regisseur kry dit reg om die spanning te laat opbou tot die verrassende ontknoping.

Alfred Hitchcock sou trots gewees het.

Devil is die eerste van drie flieks wat op The Night Chronicles gegrond is – stories deur The Sixth Sense en Unbreakable se regisseur, M. Night Shyamalan. Soos met die Twilight Zone-reeks gaan hulle oor die bonatuurlike wat op aarde amok kom maak.

Shyamalan gee jong rolprentmakers die kans om hul vernuf te wys. Ook maar goed, veral nadat The Last Airbender lelik in

die hek geduik het. Hierdie trilogie kan dalk sy redding wees.

Wees op die uitkyk vir Reincarnate en Unbreakable 2.

Bonus: kortflieks, uitgesnyde tonele.