Animasie-komedie.

Stemme: Steve Carell, Jason Segel en Russell Brand.

Regie: Pierre Coffin en Chris Renaud.

2010. 95 min.

O.

Ons dink: 4/5

DAAR word dikwels gesê skurke is interessanter karakters as goeie ouens. In hierdie fantasie oor mededingende misdadigers is die skurk die hoofkarakter – ’n wonderlike vars variasie op die gewone gesinskykstof.

Toe die bose Gru (met Carell se stem) hoor die opkomende jong skurk Vector (Segel) het die piramide van Giza gesteel, wil hy hom ’n ding wys en weer die voorste superskurk ter wêreld word.

Hy bedink ’n plan om die maan te steel. Maar dan kry Vector die krimpstraal in die hande wat Gru en sy helper, die wetenskaplike dr. Nefario (Brand), vir hul plan nodig het.

Gru neem drie weesmeisies aan wat hom moet help om dit terug te kry. Maar hulle voer self iets in die mou . . .

Die karakters is oorspronklik, die draaiboek skerp, die hipermoderne animasie lyk soos 3D al is dit 2D, en Gru se geel robotvolgelinge sal jou laat skaterlag.

Dis hoogs vermaaklik van begin tot einde.

Bonus: hope, onder meer kortflieks en ’n speletjie.