Ons dink: 3/5

DATE NIGHT

Aksiekomedie. 2010. 88 minute. Met Steve Carell, Tina Fey en Mark Wahlberg. Regie: Shawn Levy. 13OBT.

Tina Fey en Steve Carell is twee van die snaaksste mense wat op die oomblik in die Amerikaanse vermaakbedryf werk. Gooi hulle bymekaar en jy het ’n vuurwerkvertoning.

Phil (Carell) en Claire (Fey) Foster is ’n gewone voorstedelike paartjie wat hul alledaagse bestaan en huwelik probeer opkikker met ’n romantiese aandjie in die stad. Maar dinge loop lelik skeef toe hulle vir misdadigers aangesien word wat in die Mafia se onguns beland het.

Hulle moet noodgedwonge op ’n dolle vaart deur die strate van New York van die Mafia én die polisie vlug. Dan kry hulle uit ’n vreemde oord hulp – van die spiertier Holbrooke (Wahlberg). Eindelik bevind hulle hulself in ’n ontkleeklub – met skreeusnaakse gevolge.

Aanhangers van ligte aksiekomedies sal Fey en Carell se kwinkslae geniet, en al boei Date Night nie deurgaans ’n mens se aandag nie, is dit een van die skaflikste grapflieks wat die afgelope ruk uitgereik is. Kyk dit gerus as jy lus is vir goeie, ligte vermaak. Bonus: kortflieks, uitgesnyde tonele.