Jeff Bridges het ’n Oscar gewen vir dié rolprent waarin hy ’n ouer wordende, dranksugtige country-sanger genaamd Bad Blake speel.

Bad, ’n eertydse ster wie se loopbaan vinnig taan, ry elke dag honderde kilometers ver net om in twyfelagtige kuierplekke te speel, en hy verdien skaars genoeg geld om vir hom whisky te koop.

Dinge begin beter lyk toe hy ’n oulike joernalis (Gyllenhaal) ontmoet, en die jong ster wat danksy hom sy eerste groot deurbraak gekry het (Farrell), hom vra om saam met hom te gaan toer – maar is Bad al te ver op die pad van selfvernietiging om homself te red?

Die fliek herinner baie aan The Wrestler, waarin Mickey Rourke vir ’n Oscar benoem is vir sy rol as ’n stoeier wat te oud word om ál ding te doen wat hy nog weet hoe om te doen.

Bridges is fantasties as ’n goeie ou wat die pad byster geraak het, en hy sing selfs T-Bone Burnett se hardebaard-liedjies goed. Dis tegelykertyd hartverskeurend en blymoedig – nes ’n goeie country-liedjie. Bonus: uitgesnyde tonele.

Drama. 2009. Met Jeff Bridges, Maggie Gyllenhaal en Colin Farrell. Regie: Scott Cooper. 110 min. 13TD.

Ons dink: 4/5