Kaptein Sam Cahill (Maguire) is ’n modelburger – ’n voormalige sokkerster en wonderlike gesinsman wat vir die tweede keer in Afganistan gaan veg.

Sy broer, Tommy (Gyllenhaal), het pas uit die tronk gekom, waar hy ’n vonnis vir bankroof uitgedien het, en hul pa, Hank (Shepard), ’n Viëtnam-veteraan, laat geen kans verbygaan om hom te laat verstaan hoe sleg hy by sy broer afsteek nie.

Toe Sam se helikopter afgeskiet word en hy vermoedelik dood is, ondersteun Tommy sy broer se vrou, Grace (Portman), en twee dogters. Dis vir almal ’n genesingsproses namate Grace Tommy ’n kans bied om vir alles te vergoed.

Sam keer uiteindelik terug – beseer, teruggetrokke en ontnugter oor die gruwel waaraan hy deelgeneem het. Terwyl

hy sy duiwels besweer, raak hy vervreemd van almal wat hom na aan die hart lê.

Die rolprent is ’n meesterstuk. Op een vlak beeld dit die leed uit wat oorlog die soldate én die mense in hul lewe berokken. Op ’n ander vlak is dit ’n uitbeelding van familiebande en die krag daarvan, ten goede en ten slegte.

Ons dink: 4/5

Drama. 2009.

Met Jake Gyllenhaal, Natalie Portman, Tobey Maguire en Sam Shepard.

Regie: Jim Sheridan.

101 min. 16GT.